Hoop in eenvoud

Dané Kotze, Streeks- Maatskaplike Werker: Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap-streek

Die konsep van hoop is so groot dat elke mens dit anders sien en dit op verskeie maniere definieer. Soos ek vroeër in die jaar al aangedui het, laat die woord “hoop” my dink aan die liedjie van Jo Black “Bring die hoop weer terug”. In sy lirieke stel hy dit so mooi en duidelik, maar een gedeelte wat vir my uitstaan, is: “Hoop. Wat is hoop? Dis as ons harte na mense terugdraai … As jy struikel, sal jy weer opstaan. Hoop. Wees die hoop. Steek jul hande uit na mekaar.”

Hoop is kompleks. Wanneer ons uit die oogpunt van ‘n lid van die gemeenskap of ‘n vrywilliger na die maatskaplike ontwikkeling van gemeenskappe kyk, kan ons daarop probeer fokus om uit ons eie borrel te beweeg en ons gemeenskap raak te sien. Wanneer ons opkyk en rondkyk, het ons die geleentheid om te sien wat werklik om ons aangaan. Sό kan ons bepaal wat die uitdagings, behoeftes en natuurlik die sterkpunte in ons omgewing is.

Ek glo in eenvoud wanneer ons groot konsepte aanpak soos gemeenskapsontwikkeling en om die hoop terug te bring in gemeenskappe waar hulpeloosheid, mismoedigheid en negatiwiteit oorheers. Die eerste stap is om net te luister, om net ‘n oor te wees vir rolspelers en organisasies wat hul dag en nag moeg werk om ons gemeenskappe op te hef. Hierdie klein daad bring hoop terug vir dié wat aldag gekonfronteer word met die negatiewe en naarhede van die lewe.

Dit moet jou ook herinner dat almal se maniere om hoop te bring en in ons gemeenskappe uit te straal van mekaar verskil. Elkeen het ‘n unieke blokkie wat gevul moet word. Wanneer elkeen sy blokkie inkleur, maak ons saam ‘n groter prentjie. Ons streef saam na ‘n groter doel en droom in ‘n poging om ‘n gesonde gemeenskap te skep.

Raak betrokke by gemeenskappe en bied projekte aan wat fokus op die verligting, voorkoming en verbreking van armoede. Deur die jare het gemeenskapslede baie individualisties begin raak. Dis elkeen vir homself en nie noodwendig vir mekaar nie.

Deur net op ‘n klein manier betrokke te raak by gemeenskapsaktiwiteite kan ons hoop terugbring. Gaan kuier by ‘n senior in ‘n tehuis en speel saam bingo. Gaan vertel vir kinders stories of bied hulp aan met die opkikker van traumakamers. So steek jy jou hande uit die mou vir jou gemeenskap. Sonder om dit te sê, wys jy dat jy jou gemeenskap belangrik ag. Dit bring menswaardigheid terug, verlig eensaamheid en maak ons gemeenskappe bewus van trauma. In ‘n neutedop kan jy dus sê klein dade bring die hoop weer terug. Jy veroorsaak ‘n rimpeleffek en motiveer ander om jou om ook hul hande uit die mou te steek en by hul gemeenskap betrokke te raak. So begin ons hande vat en saam maak ons ‘n vangnet. Ons versterk ons eie hande en dié van ander om ons om weerlose groepe te bemagtig. Hoop is die lig in die donker, die klein, fyn straaltjies lig wat deur die krake van die lewe skyn. Elkeen van ons kan hoopdraers in ons gemeenskappe wees. Elkeen van ons kan hoop bring en vir ander gee. Ons moet net in onsself glo en in die gawes wat God vir elkeen van ons gegee het. In plaas daarvan om te fokus op wat ander doen, moet ons begin om ons aandag op ons eie vermoëns te vestig.